My Biografie
Die mens agter die musiek — ‘n reis van Tsumeb tot die klank van Suidwes.
“Goeie dag, eerstens baie dankie vir elkeen wat na die liedjies luister en positief daarop reageer — dit is ‘n riem onder die hart.”
Herkoms en Agtergrond
Ek is in Tsumeb gebore en was voor skool in Otjiwarongo en Kalkfeld, daarna my laerskool in Walvisbaai voltooi en my hoërskool in Windhoek.
Weermag voltooi in Suidwes/Namibië en ook rugby gespeel vir van die bekendste spanne. Ek het as ‘n spoorweg kind groot geword en my Heimat is diep onder my vel ingeweef. Die hele land is vir my amper my asem en my voortbestaan!
Die Gedigte
Op skool het ek gedurende die jare 1977 tot 1981 ongeveer 512 gedigte geskryf. Hier gedurende 2013 tot 2015 begin om gedigte oor my Heimat te maak wat uiteindelik op 110 uitgekom het.
Na die eerste paar het ek besef dat my aanklank baie met ons geskiedenis te make het — u sal merk dat dit so voorkom in die liedjies ook. Die Slag van Kub is nie sommer maklik opspoorbaar nie en min mense ken enigsins hierdie deel van ons land se geskiedenis.
Iemand wat my baie betugtig het, maar ook raad gegee het was oom Willem Kotze van Keetmanshoop. My gedigte het ek in een eksemplaar laat druk en op ou Suidwester blaaie op Facebook geplaas.
Hoe die Musiek Ontstaan het
Drie maande gelede het ek op ‘n rekenaarprogram afgekom wat liedjies deur KI (Kunsmatige Intelligensie) kan maak met die woorde wat omskep word in musiek en sang. Ek kies die melodie en stemme en dit neem my ongeveer 4 tot 6 ure om een liedjie te maak.
Ek besit die kopiereg van elke liedjie en dit kos my ongeveer R30 per probeerslagSekere liedjies is partykeer eers na die 10de aflaai die regte liedjie!
Hierdie liedjies rond in my opinie my gedigte wonderlik af — ek wil amper sê dit is nou mooier as die dag toe ek dit geskryf het.
“Weereens my opregte dank vir u wat daarna luister — en in ag geneem u reaksie, weet ek u geniet dit net soos ek!”
Auf Wiedersehn 🎵